Sunday, August 19, 2007

Moeder, ma Engeland is mooi!




Wat kan ek se wat Mamma nie al 20 keer vir almal gese het nie. Ek weet nie. Maar as ek 'n pond gehad het vir elke keer wat sy gese het: "Ag, kyk die blomme!" kon ek dalk al afgetree het. Al wat ek sal se is dit was pret, interessant, mooi, en ons was baie gelukkig met die weer. Vir die minder geografies beperkte koppe: ons het begin ry by my huis in Basildon, na Reading, Newbury, Chippenham, en Bath. Toe deur Warminster, Shaftesbury, Blandford Forum tot by Poole. Toe Bournemouth, Christchurch en Beaulieu, na Lyndhurst. Die volgende dag na Lymington, met die ferry na Yarmouth, The Needles, Ventnor, Shanklin, Sandown en Ryde. Van Fishborne af terug met die ferry na Bournemouth. Vandaar deur Arundel na Brighton, en toe huis toe via die Dartford Tonnel.

Labels: ,

Wednesday, June 27, 2007

Cinque Terre










Die Cinque Terre is 'n Unesco bewaarde area tussen die dorpe La Spezia en Genoa aan die noordweskus van Italie. Dis die mooiste plek wat ek nog ooit gesien het. Daar is berge, nie sagte berge nie maar groot, rowwe klipperige berge. Die mense wat daar bly, hou van boer, en hulle gebruik elke stukkie plat grond. Daar waar nie plat grond is nie, het hulle dit gemaak. Hulle het klipmure al teen die berghange af gebou, terasse noem hulle dit, en in die meter of so gange, plant hulle olyfbome of druiwe of iets. Daar is 5 piepklein dorpies baie na aan mekaar, wat verbind is met 'n staproete altesaam van so 5 ure. Ek het die moeilikste deel die eerste dag gestap, dit was so 2 ure van op en af klim. Die volgende dag het ek gestap met 'n baie verdagte klein voetpaadjie al langs die berg af, tot by 'n verlate strand wat slegs per voet bereik kan word. Langs die pad het ek met 2 amerikaners vriende gemaak, en toe ons op die strand kom, sien ons dis 'n "naturist beach" en een vet ou italiaanse man maak toe ook so en trek al sy klere uit vir 'n swem! Daar was omtren so 7 mense op die strand en almal was ewe verbaas en verlee. Dit begin toe reen, en almal soek toe skuiling onder 'n boom insluitende die kaalswemmer, nog steeds sonder sy klere! Seker gereken hy hoef nie onnodig sy klere te laat natreen nie.


Daar is ook 'n baie maklike roete genaamd Via del Amore of Lovers Lane, wat ek die volgende dag gestap het. Die uitsig is ongelooflik. Die dorpe sit almal op die water party teen 'n rots vasgebou, en die water is so skoon, jy kan die klippe op die bodem sien in 1,5m water. Die laaste dag het ek die ferry gevat wat al langs die kus af ry na 'n groter dorp toe, en daar rondgevra vir 'n geleentheid op 'n seiljag terug Engeland toe. Niemand is egter lus vir die Engelse weer nie, almal is op pad Cipres of Turkye toe, en ek moes maar die vliegtuig vat.

Labels:

Firenze en Pisa



Ek het weereens net 'n agtermiddag in Firenze gehad, en dit was ook net genoeg tyd om vir Dawid te gaan kyk. Die 2 ure wat ek in die tou was om in die Academia in te kom was die moeite werd, behalwe vir die Dawid-beeld is daar ook ander fantastiese werke van Michelangelo en kie. Ek kon nie veel anders gedoen kry nie, behalwe om rond te dwaal, en in 'n antieke mard rond te snuffel nie. Die stad is baie mooi, daar is 'n Duomo, 'n kerk wat geheel en al uit marmer gebou is, die Toskaanse streek is baie ryk daaraan. Kyk gerus na die foto, heel bo, dis als wit, groen en pienk marmer! Die Ponte Vecchio Brug se winkels was ongelukkig almal toe, maar ek het nie foto van die standbeeld met die sonsondergang daar geneem.
Die volgende oggend is ek terug op die bus, en het ons 'n uur lank gestop in Pisa, om na die ingeneursfout te kyk. Daar was ook 'n Duomo, dieselfe tipe marmer kerk wat in Firenze is. 'n Uur was net mooi genoeg, daar is nie regtig iets anders om te sien nie.

Venesie



Venesie is een van daai plekke wat mens so baie op TV sien en van hoor, dat dit baie bekend voel en lyk as jy daar kom. Dis so bietjie soos 'n filmstel wat spesiaal vir toeriste optestel is. Maar dis nogtans baie mooi en bekoorlik. Ek het eers so 8 uur die aand daar aangekom, en sou die volgende oggend toe Rome toe gaan. Ek het dus 'n waterbus al langs die Grande Canal afgevat, en oorkant St Markus plein afgeklim. Toe het ek met die voet langs begin terug loop. Ek het glad nie 'n kaar gebruik nie, en net so na moontlik aan die Groot kanaal gebly om nie te verdwaal nie. Dit het gewerk, ek het nie verdwaal nie, maar dit het 'n baie lang tyd gevat, en ek het toe die laaste bus gemis na die kampeerterein toe, en moes 'n taxi vat teen 30 Euros.

Rome






ROME... Absolute chaos... Die eerste dag wat ek daar was, besluit ek en die 2 kanadese in my kamer om na die Vatikaanstad te gaan en ook om die Pous se groeteboodskap te gaan luister. Kyk gerus na die eerste foto, Hy sit daarbo in die koelte terwyl omtrent 2 miljoen mense in die son staan en wonder wat hy praat. Ons is egter daarna in die Vatikaan museum in, het ons aan duisende standbeelde en skilderye vergaap en uiteindelik in die Sistynse kapel uitgekom. Daar is 'n horde mense wat almal skelm fotos van die dak probeer neem, en 2 wagte wat elke 2 minute skree: "Silence please, no pictures!" en natuurlik luister niemand nie.
Die volgende dag is ons Koloseum toe, en na 'n klomp baie ou, dooie klippe gekyk. Die dag daarna het ons 'n bustoer in die stad gevat, en baie mooi dele gesien. Ons het al die belangrikste tesien, Trevi Fonteine, Spaanse trappe ens. Saterdag wou ek teruggaan en weer na St Peters kerk gaan kyk, maar George W Bush wou ook gaan en die res van die wereld moes toe maar wag. Die heel Saterdag het dit ure gevat om erens te kom, want helfte strate was afgesper om vir hom plek te maak. Daar was ook 'n miljoen polisielede, selfs die polisie van Bosbou was daar.
Rome is 'n plek waar daar altyd iets sal wees wat jy nog nie gesien het nie, of iets wat jy weer wil sien, en daar is nooit genoeg tyd nie. Maar ek het dit baie geniet, en ek het nie eenkeer onder 'n sakkeroller deurgeloop nie, prestasie!

Tuesday, June 19, 2007

Oostenryk







Na 'n ellelange treinrit van Linz na Wenen Vrydagaan, was ek maar te dankbaar om my hostelkamer beter te verken. Saterdagoggend het ek egter die stad met alle kulturele ywer aangepak, en my heel eerste by die Spaanse ryskool aangemeld. Daar het hulle toeskouers toegelaat om die oggend oefening van die Lipezzaners by te woon. Daarna het ek die stad platgeloop, ek was ook by Sloss Schonbrunn, waar ek 'n halfuur lank in 'n "maize" verdwaal het! Ek het die aand 'n konstert bygewoon waar hulle meestal werke van Mozart, en pa en seun Strauss uitgevoer het. Sondagoggend is ek na 'n katolieke kerkdiens waar die Weense Seunskoor saam met 'n orkes en 'n mannekoor gesing het.


Van daar af het ek heen en weer gery deur die land met die trein, eers terug Linz toe, deur Salzburg, na Innsbruck, waar ek vir so 2 ure gestop het om vir die berge te kyk, en toe weer na St Johann, waar ek oornag het en die Bus gevang het na Venesie.

Wednesday, May 30, 2007




Amsterdam, nice, Parys




Monaco, Nice, Rotterdam




Cannes, Eze en Monaco




Monday, April 02, 2007

Finland





Hier is die fotos van wat ek als in Finland aangevang het: Dag 1 was ek by die Santa Clause Village, op die Arktiese sirkel. Dit was nogal mooi met al die sneeu, en daar was heelwat oulike winkels. Maar Kersvader is 'n geregistreerde handelsmerk, en mag net deur sy Elwe afgeneem word. Teen 17 Euros.
Daarna het ek die Bus geklim en 4 ure lank gery na my bestemming, Kiilopaa. Daar aangekom was ek so moeg van 36 ure sonder slaap dat ek min of meer dadelik in die bed geklim het. Die volgende oggend het ek 6km met sneeuskoene gestap en taamlik moeg en seer by die hostel aangekom. Gelukkig was daar 'n sauna om die moee spiere te troos.
Daardie aand het ek besluit ek moet die Noorderligte sien, so ek moes in die donker buite bly. Maar dit raak koud so in die sneeu, toe stap ek maar op teen die heuwel vir omtrent 'n uur. Niks het gebeur nie, so toe draai ek maar om. Ek was amper terug by die hostel, en het klaar moed opgegee, toe ek ewe skielik omdraai, en daar is dit! 'n Groen lig was stadig en misterieus deur die hemelruim beweeg. Fantasties. Stil. Ek kon net staan en kyk. Dit het nie baie lank aangehou nie, en ek kon toe darem nog 'n goeie nagrus inpas.
Die volgende more is ek na die husky plaas toe vir my sleerit. Hulle is te oulik, vol lewe, al 200 van hulle. Ek het my eie slee gehad, met 4 honde, en ons het omtrent vir twee ure deur die woud gery. Dit was nogal 'n inspanning om op die slee te bly, en daai honde hardloop vinnig! Hope pret!
Daarna het 'n 4 ure busrit terug na Rovaniemi gevolg, en 'n rustige aand in die hostel, en die volgende oggend is ek toe Helsinki toe. Die hoofstad van Finland herrinner nogal sterk aan die russiese styl van reghoekige geboue, en dis mos reg, want Finland was eers Russiese gebied.
Dit was 'n anderse, prettige en soms eensame avontuur wat my amper bankrot gemaak het, maar dit was uit en uit die moeite werd!

Thursday, February 08, 2007

Sneeu, Sneeu!



Wat maak 'n Vrystater as dit sneeu? Bou 'n sneeuman! Maar common sense het ingegryp en ek het gedink dat my hande te koud gaan kry, toe leen ek een langs die pad.
Dit was baie lekker om wakker te word, by die venster uit te kyk, en alles is wit! Dit het so twee duim gesneeu, en toe later begin reen, en toe loop die hele ding skeef, want toe begin alles smelt, en wegspoel, en bruin word, en nie meer so nice nie.
Die weervoorspelling vir more is dat die sneeu wat oor is vannaand gaan ys, en dan gaan dit meer sneeu, en so gaan niemand more erens heen nie.

Hou duim vas!

Friday, January 26, 2007

'n Bietjie spog...

Ek het 'n brood gebak! Hy is pragtig. 'n Bietjie skeef na die een kant toe gerys, maar 'n regte tuisgebakte brood. Wag laat ek gou proe.................................................... Mmmmm! 'n Bietjie kleitjie, net 'n bietjie, maar hy proe soos die huis! Ons gaan hom nou opeet. Koebaai!