Geseende Kersfees Almal
Ek moet se, na die fiasko wat ek die week by my wonderlike nuwe werk beleef het, voel ek nog nie heeltemal soos Kersfees nie. Die werk sou 'n goeie kerspersent gewees het, ek kon sakke vol geld gemaak het, maar ten koste van my rug, wat klaar af is na net 'n week, en ook 'n wolfhond wat 'n baie intimiderende manier het om te "speel". So, more gaan ek stert tussen die bene huis toe, en moet ek 'n nuwe manier vind om geld te maak. Ek is darem nie heeltemal sonder plan nie, maar my planne draai meestal om my sosiale lewe: ek gaan Oukersaand middernagdiens toe saam met 'n gawe man wat ek op die boot in Burnham-on-Crouch ontmoet het, en Kersdag na 'n formidabele middagete saam met my vriendin, Jessy, wie se flambojante kersboom hier te sien is. Dit is vandag vrydag, en ek dink Maandag is heeltemal ver genoeg in die toekoms om enigsins verder hoef te beplan, so, moenie vra wat ek daarna gaan doen nie. O ja, ek gaan darem Oujaar na 'n partytjie in die Seiljagklub. My nuwejaarsvoorneme sal seker maar wees om 'n 'regte' werk te kry. Ek gaan more begin en almal wat ek ken, stelselmatig begin bel. Ek dink egter my geld gaan op wees voor ek by party uitkom, daarvoor moet julle my asseblief vergewe.
My ander nuwejaarsvoorneme sal ook wees om meer gereeld hier te probeer skryf, ek sal hopelik 'n betroubare internet konneksie in die nuwejaar beskikbaar he.
Dus moet almal wat hier lees 'n geseende Kersfees he, en 'n voorspoedige Nuwejaar, ek verlang baie na julle, en ook na die sonskyn (veral die sonskyn) en ek hoop om gou weer 'n draai te maak.
I'm dreaming of a sunny Christmas...