Monday, April 02, 2007

Finland





Hier is die fotos van wat ek als in Finland aangevang het: Dag 1 was ek by die Santa Clause Village, op die Arktiese sirkel. Dit was nogal mooi met al die sneeu, en daar was heelwat oulike winkels. Maar Kersvader is 'n geregistreerde handelsmerk, en mag net deur sy Elwe afgeneem word. Teen 17 Euros.
Daarna het ek die Bus geklim en 4 ure lank gery na my bestemming, Kiilopaa. Daar aangekom was ek so moeg van 36 ure sonder slaap dat ek min of meer dadelik in die bed geklim het. Die volgende oggend het ek 6km met sneeuskoene gestap en taamlik moeg en seer by die hostel aangekom. Gelukkig was daar 'n sauna om die moee spiere te troos.
Daardie aand het ek besluit ek moet die Noorderligte sien, so ek moes in die donker buite bly. Maar dit raak koud so in die sneeu, toe stap ek maar op teen die heuwel vir omtrent 'n uur. Niks het gebeur nie, so toe draai ek maar om. Ek was amper terug by die hostel, en het klaar moed opgegee, toe ek ewe skielik omdraai, en daar is dit! 'n Groen lig was stadig en misterieus deur die hemelruim beweeg. Fantasties. Stil. Ek kon net staan en kyk. Dit het nie baie lank aangehou nie, en ek kon toe darem nog 'n goeie nagrus inpas.
Die volgende more is ek na die husky plaas toe vir my sleerit. Hulle is te oulik, vol lewe, al 200 van hulle. Ek het my eie slee gehad, met 4 honde, en ons het omtrent vir twee ure deur die woud gery. Dit was nogal 'n inspanning om op die slee te bly, en daai honde hardloop vinnig! Hope pret!
Daarna het 'n 4 ure busrit terug na Rovaniemi gevolg, en 'n rustige aand in die hostel, en die volgende oggend is ek toe Helsinki toe. Die hoofstad van Finland herrinner nogal sterk aan die russiese styl van reghoekige geboue, en dis mos reg, want Finland was eers Russiese gebied.
Dit was 'n anderse, prettige en soms eensame avontuur wat my amper bankrot gemaak het, maar dit was uit en uit die moeite werd!