Friday, January 20, 2006

Hallo al julle nuuskierige mense!

Vir een of ander rede kan ek nie vandag fotos opsit nie. Ons het nou seker vir 10 dae aanmedaar sulke grys donker bewolkte reenerige dae gehad, en ewe skielik kom die son toe vanoggend uit! Sal seker nie lank hou nie, hy skyn in elk geval nie soos ek hom ken nie, hy kom so 9 uur uit en dan skuif hy hier onderlangs op die horison verby en verdwyn weer so 3 uur. Skyn nooit van bo af nie, die skaduwees bly lank.

Ek beplan nou om 29 Jan tot 3 Feb op te ry Skotland toe en terug. Sover is die plan om die eerste nag in Whitby oor te slaap, dis blykbaar waar Dracula bly. Die dorp sit teen die ooskus, so ent voor Skotland. Die volgende dag sal ons aanbeweeg na Edinburgh toe, waar ons 2 nagte sal oorbly. Dan is dit weer terug tot by die Yorkshire Dales waar ons sal slaapplek soek in een van die klein villages. Die volgende dag is dit aanbeweeg na die Peak District National Park, waar die dorp Bakewell is, waar Bakewell tarts vandaan kom. Een nag word hier deurgebring voor ons die pad aanpak terug Billericay toe. Dit is blykbaar van die mooiste dele in UK, ek sal baie fotos neem.

Partykeer kan mens lekker lag vir die ou mense, party se koppe is nie meer so lekker by nie. Die een tannie (sy is 100 jaar oud) het my diep in die oe gekyk en my vertel dis oor sy met my getrou het dat sy so 'n misrabele lewe gehad het. Die een dag klop sy aan die venster en trek 'n verbyganger se aandag. Sy se toe sy het hulp nodig. Die verbyganger laat kom die polisie en ambulans. Toe hulle daar aankom vertel sy vir hulle haar skoondogter sluit haar in die huis toe, en laat haar te kort ly omdat sy kwaad is omdat daar nie geld vir haar in die testament is nie. Toe ek daar aankom vir haar tee, is die hele huis vol mense en hulle wil by my weet of dit waar is. Die volgende oggend toe ons haar uit die bed gaan help, toe kry ons haar onder die bed. Ek vra vir haar hoe het sy daar gekom, toe se sy die drie mans het haar daarin gestoot. Partykeer is dit moeilik om te weet wat moet jy glo. Die ander keer toe ons die aand by haar kom was sy hoogs ontsteld want daar is glo 'n brand in die blok woonstelle se kelder en die kinders is daar vasgekeer en ons moet hulle gaan help. Ons stel haar toe gerus en se almal is veilig, intussen het ons nie 'n idee waarvan sy praat nie! Die volgende oggend op die nuus hoor ek toe van 'n brand wat plaasgevind het in 'n woonstelgebou in een van die woonbuurte nie ver hiervandaan nie!

In elk geval, intussen werk ek party dae hard, 10 ure skof en die volgende dag weer amper niks, 3 ure skof. Die weer is warm, tussen 7 en 10 grade gewees die heel week, die snaakste is dat die dag en nag temperature presies dieselfde is. Hulle praat nou egter dat die Russian Freeze hiernatoe kan kom, Rusland ervaar lieflike weer van -30 grade op die oomblik! Ek hou maar my vliegkaartjie byderhand, net ingeval.

Hulle se nou net op die nuus daar het 'n walvis in die Teems rivier in London op geswem. Almal het hulle die kantoor verlaat om te kyk en die verkeer het tot stilstand gekom. Snaakse plek die.

Ons was Oujaarsaand by 'n klub gewees, 10 minute na 12 toe maak hulle die kroeg toe! Op gewone aande in die Pubs maak hulle die kroeg 11 uur toe, en 11:10 vra hulle jou om asb te loop. Almal gaan ewe gelukkig huis toe sonder om te kla! Die polisie staan sommer buite die nagklub se deur om asems toe toets soos die mense uitkom. Almal staan in bondels saam om vir die taxi te wag.

Ek dink ek het nou eers genoeg nonsens gepraat vir een dag, ek hoop almal kan insig hierin vind!

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home